Klein Karoo Skoolprojekte
Die Geskiedenis van Volstruise

Argeologiese navorsing het getoon dat volstruise reeds sewe miljoen jaar gelede bestaan het, terwyl handel in volstruisvere duisende jare terugdateer. Arabiere verwys na die volstruis as die kameelvoël, terwyl wetenskaplikes ‘n ander naam daarvoor het – Struthio camelus.
Die volstruis is reeds duisende jare bekend aan die mens – sedert die tyd van die Babiloniese, Egiptiese en Assiriese beskawings. Vroeë reisigers het in ongeveer 1775 die eerste keer melding gemaak van die volstruise in Suid-Afrika. Volgens hulle het baie boere in die Kaap mak volstruise besit wat vrylik rondbeweeg het.
Kommersiële volstruis “boerdery” het ongeveer 1826 in Suid-Afrika begin. Sedertdien het dit goed gevestig geraak in die vrugbare vallei tussen die Outenikwa- en Swartberg bergreekse in die Suidelike Kaap. Hierdie vallei met sy geil grond en betreklik lae gemiddelde reënval – 225 mm per jaar – staan geografies bekend as die Klein Karoo. Vanaf die berge, wat 1 000 meter bo die valley uittoring, bring sterk-vloeiende strome water na die vrugbare vlaktes. Hier lê Oudtshoorn, die juweel in die kroon van die Klein Karoo en die Volstruis-hoofstad van die wêreld, asook die tuiste van ‘n groot persentasie van die wêreld se volstruisbevolking.
Aan die begin van die 20ste eeu, het volstruispluime groot rykdom ingehou. Teen die begin van die nuwe eeu het hoëgehalte volstruisvelle ‘n gesogte kommoditeit geword. Volstruisleer bly een van die min eksotiese leertipes wat tot die mensdom se beskikking is. Volstruisvleis word toenemend gewild by gesondheidsbewuste verbruikers wat nie smaak en gehalte wil inboet in hul strewe na ‘n gesonder leefstyl nie.
Landgebonde voëls
Landgebonde voëls staan ook bekend as loopvoëls (ratite is die Latyn vir raft - boot sonder kiel).
Loopvoëls het 'n plat borsbeen sonder die kielagtige struktuur waaraan die vliegspiere van vlieënde voëls geheg is.
Volstruise
As inheemse voël van Afrika, groei die volstruis - die grootste lewende voëlspesie - tot 'n hoogte van ongeveer 2,4 m (8 vt) met 'n massa van 150 kg (330 lb). Alhoewel landgebonde, kan volstruise teen 'n spoed van 65 km/uur (40 mpu) beweeg. Die aanpasbare volstruis kom voor in rotsagtige gebergtes, oop savannas of sanderige woestynvlaktes. Hulle is omnivore wat gras en die blare van bome en bosse eet asook enige klein gewerwelde en ongewerwelde diertjies wat hulle kan vang.
Nandoe
Die nandoe is gewoonlik kleiner as Afrika-volstruise en het drie tone in plaas van twee. Die kop en nek is geheel en al met vere bedek. Die stert is onderontwikkeld, maar lang vere hang oor die agterste gedeelte van die liggaam.
Die nandoe wissel van lig-grys tot bruin in kleur. Soos volstruise, is die mannetjies veelwywig en broei die eiers uit. Etlike wyfies gebruik dieselfde nes en 'n enkele mannetjie kan tot 50 eiers uitbroei. Die nandoe hardloop baie vinnig op lang bene en beweeg in familiegroepe van ongeveer ses voëls, behalwe in die paarseisoen wanneer groepe uit ongeveer 25 voëls bestaan. Die groter nandoe kom voor in die grasvelde van Bolivia en Brasilië tot sentraal Argentinië. Die kleiner nandoe kom voor in die hoë poena-streek van die suidelike Andes en in die grasvelde suid van die gebied waar die groter nandoe voorkom.
Emoe
Die emoe is 'n groot landgebonde voël eie aan Australië en kom voor in die westelike deel van die vasteland, d.w.s op die oop vlaktes en ruigtes. Naas die volstruis, is die emoe die grootste van alle voëls, met 'n hoogte van tot 1,8 m (6 vt) en 'n massa van 59 (130 lb). Die emoe se vlerke is onontwikkeld en bedek met growwe, byna haaragtige vere.
Die verekleed is vaal-bruin, donkerder op die kop, nek en middel van die rug, en ligter aan die onderkant van die liggaam. Die kaal dele van die kop en nek is grys-blou. Die snawel en voete is bruin. Die emoe eet hoofsaaklik knolle, vrugte, saad en blomme. Hul plaas hul eiers (donkergroen en ongeveer 10 cm lank) in 'n uitgeholde gat in die grond. Die inkubasietydperk is byna twee maande en eiers word uitsluitlik deur die mannetjie uitgebroei. Die mannetjie versorg ook die kuikens.
Kasuarisse
Die kasuaris staan 1,2 tot 1,8 m (ongeveer 4-6 vt) hoog en wanneer hy skrik kan hy teen 'n spoed van tot 48 km/uur (30 mpu) beweeg. Die binneste tone het lang reguit, mes-agtige naels, wat dien as dodelike defensiewe wapens. Die los, haaragtige verekleed is bruin-swart. Die kop en nek is kaal en helderkleurig in verskeie kombinasies van rooi, geel en blou.
Bo op die kop is 'n groot benerige kuif. Kasuarisse het oorspronklik slegs in noord-Australië en Nieu-Guinee voorgekom maar is na Nieu-Britanje, Ceram en die Aru-eilande gebring as troeteldiere. Anders as die emoe, nandoe en volstruis, aard kasuarisse in die bos eerder as op die oop vlaktes. Hulle lê drie tot ses eiers op 'n slag en die mannetijies broei die donkergroen eiers uit.