10 Maart 2009

MEDIAVRYSTELLING
Vir onmiddellike gebruik

Opgrawing van familiegrafte
________________________________________________________________

Die Munisipaliteit van Oudtshoorn en KLEIN KAROO International (KKI) werk saam met ‘n argeoloog en begrafnisondernemer om familiegrafte op die terrein van die volstruislooiery op te grawe.  Al die inhoud van die grafte sal weer in een graf by die munisipale begraafplaas herbegrawe word. ’n Gedenkteken sal aangebring word.

Volgens mnr Mr. Gavin Juthe, hoof: spesiale projekte van die munisipaliteit, word die opgrawings by die looiery onder toesig van Dr Dave Hallket van die argeologie-kontraktekantoor by die Universiteit van Kaapstad gedoen.  Dit geskied streng volgens wetlike bepalings van die South African Heritage Resources Agency (SAHRA). Verteenwoordigers van die betrokke gemeenskap is tydens die opgrawings teenwoordig.

Volgens mnr Juthe, is die munisipaliteit drie jaar gelede deur lede van die gemeenskap genader.  Hulle was van mening dat die behuisingsprojek in Dassiestraat, Bridgton, op ou grafte ontwikkel is.  Dr Hallket is gekontrakteer en vier terreine met sigbare en onsigbare grafte is by die Suikerbult gemeenskapsbegraafplase deur hom en mnr Philip Hine geïdentifiseer.

Hierdie terreine is geleë op die suidoostelike hoek van die Dassiestraat-behuisingsprojek, asook by die leerlooiery, die Kloof-terrein aan die oosoewer van die Olifantsrivier en by die Ou Winkel/Speelgrond-perseel.

Sewentien duidelik sigbare grafheuwels is op die Dassiestraat-terrein uitgeken.  By die looiery-terrein is 109 grafte in totaal geïdentifiseer terwyl ongeveer 31 grafheuwels op die Kloof-terrein op die vloedvlakte gevind is.  Nadat proef-opgrawings gedoen is, is bevestig dat daar ten minste 56 grafte op die Ou Winkel /Speelgrond-terrein is.  Te oordeel aan die sigbare grafstene blyk dit dat die laaste mense om en by die einde van die jare vyftig in hierdie gebied begrawe is.

As eienaar van die grond, het die munisipaliteit Dr Hallket aangestel om verantwoordelikheid vir die opgrawing van die geïdentifiseerde grafte te aanvaar en om vas te stel of daar enige ander grafte laer af in Dassiestraat en in die onmiddelike omgewing van die nabygeleë diens-loopgrawe is. Die begrafnisondernemer is verantwoordelik vir die opgrawing, tydelike berging en herbegrawing van die inhoud wat in die proses gevind word.

“Ons wend ‘n doelgerigte poging aan om die gemeenskap en individue wat tradisioneel ‘n belang by hierdie grafte en historiese begraafplase het, te kontak en met hulle te beraadslag, en het reeds ’n ooreenkoms bereik oor die toekoms van oorskot in hierdie grafte,” sê mnr Juthe.

KKI se Hoofbestuurder: Leer, mnr Wim van Rooyen, het bevestig dat die looiery sy volle samewerking gee om die inhoud van enige grafte op die looiery-terrein te verwyder.  “Ons het ’n nuwe, tydelike hek by hierdie beperkte industriële perseel aangebring vir toerusting en beheerde toegang tot die perseel vir die kontrakteur en die geaffekteerde partye.

“KLEIN KAROO sal graag wil sien dat hierdie taak nou volledig afgehandel word.  Ons het aansoek gedoen vir ‘n verslag wat sal  bevestig dat alle grafte en die inhoud daarvan suksesvol en tot bevrediging van die gemeenskap verskuif is,“ sê hy.

Saamgestel en uitgereik deur KLEIN KAROO International en die Munisipaliteit van Oudtshoorn
MEDIANAVRAE: Jan Greyling by 082 556 8778 of Ntobeko Mangqwengqwe by 0788027724