9 Maart 2009

MEDIAVRYSTELLING
Vir Onmiddellike Gebruik

Alphen help ruim met HIV Bewusmaking
______________________________________________________________________

Die HIV/Vigs-bewusmakingsaksie op Oudtshoorn het ‘n hupstoot gekry met ‘n ruim skenking van R260 000 deur Oudtshoorn se tweelingdorp, Alphen aan den Rijn in Nederland. Die Oudtshoorn Besigheidskamer en die Oudtshoorn Munisipaliteit het die geld afgelope Vrydag aan OHANET oorhandig.

OHANET is die Oudtshoorn HIV Vigs-ondersteuningsnetwerk. Die organisasie ontvang geldelike steun om in besonder met vigslyers en hul naasbestaandes te werk, maar ook om die breë gemeenskap van Oudtshoorn positief oor die uitdagings in te lig, wat die siekte meebring.

Die skenking is deur die Oudtshoorn Besigheidskamer gefasiliteer.

Volgens die sakeplan van die OHANET-komitee sal bestuurskomiteelede met spesiale vaardighede in werkgroepe verdeel word. Hulle word dan opgelei, waarna hulle weer in hul steungroepe mense toerus wat met die hantering van lyers en hul geliefdes kan help.

Hoërskole, jeuggroepe en spesiale dae in die jaar sal vir die vigsvoorkoming- programme geteiken word. Opvoerings, dramas en inligtingsessies sal onder, volgens skole se unieke behoeftes, aangebied word.

Programmateriaal sal spesiaal vir die projek ontwikkel word. Ondersteunende veldtogte sal deur geselekteerde media aangebied word. Uiteraard word die fondse ook toegedeel om vervoer en ander logistiese reëlings te vergemaklik.

FOTO:

Die voorsitter van OHANET, me. Jane Mduma het die Alphen aan de Rijn-skenking van R260 000 vir die gemeenskap se vigsvoorkomingsprogram van Jacobus Maloney van die Oudtshoorn Besigheidskamer ontvang. By die geleentheid was van links: Melcus Nel, besigheidskamervoorsitter, Lizbeth Waarts, Jacobus Maloney, Jane Mduma, Vuyisa Forplay en Lwellyn Coetzee van die Oudtshoorn Munisipaliteit.

Saamgestel en uitgereik deur die Oudtshoorn Besigheidskamer
MEDIANAVRAE: Melcus Nel by 082 448 0356