18 Mei 2009 MEDIAVRYSTELLING Klein Karoo-pruime skitter in Europa Pruime uit die Klein Karoo-streek het bygedra tot die sukses van die Sagtevrugte Produsente Trust (SPT) se pas afgelope Europese promosieveldtog vir Suid-Afrikaanse pruime. In die Verenigde Koningkryk was die toename in verkope van Suid-Afrikaanse pruime gemiddeld 10% of sowat £2,6 miljoen en in Duitsland het die sewe voorste supermarkgroepe groei van tussen 9% en 40% in pruimverkope getoon. Die nuus is by ‘n vergadering van die Klein Karoo-streek se vrugteprodusente by die Klein Karoo leweringsdepot by die Landmark op Ladismith deur Stefan Conradie, produkbestuurder van SPT, gedoen. Die veldtog, onder die vaandel van “South African Plums: Beautiful Country & Beautiful Fruit” is op ‘n gelyke basis deur die Departement van Handel en Nywerheid en die pruimbedryf befonds. Volgens Stefan was die doel om Suid-Afrikaanse pruime op Europa se winkelrakke van die res te onderskei. “ Ons wou ook ons pruime se markaandeel in Europa vergroot, deur groter bewustheid van die produkte en van Suid-Afrika as ‘n toerisme-bestemming te verseker.” “Ons het al die sintuie van die verbruiker aangespreek. Deur ‘n mengsel van winkelpromosies en die media het ons, in teenstelling met die negatiewe groei van die meeste ander Suid-Afrikaanse vrugte in die huidige ekonomiese knyptang, ons verkope in die Europese mark vanaf Januarie tot April vanjaar laat groei,” sê Stefan. Anton Rabe, die hoof uitvoerende beampte van SPT, wat SAAPA (Suid-Afrikaanse Appel Produsente Vereniging (Suid-Afrikaanse Sagtevrugte Produsente Vereniging) en SASPA (Suid-Afrikaanse Steenvrugte Produsente Vereniging) verteenwoordig, het bevestig dat die druk op verbruikers se sakke wêreldwyd verkope in die algemeen vertraag. Dit bring mee dat hoë oordragvoorrade van die meeste vrugte, maar veral appels, tans ‘n groot daling in bestellings in bestaande markte meebring. “Die wêreld het ons nie nodig nie, ons het die wêreld nodig en moet nuwe markte vind,” sê Anton. Met Suid-Afrika wat slegs 16% van die Suidelike halfrond se sagte- en steenvrugte lewer en net met appelkose – hoofsaaklik uit die Klein Karoo – die leier in die halfrond is, “moet ons mededingend bly en ons strukture en koste konsolideer om kop bo water te hou teen veral Chili en Argentinië.” Hy het bevestig dat die pruimveldtog bewys dat die Suid-Afrikaanse regering ten alle koste as ‘n vennoot beskou moet word en dat netwerke en verhoudings deurlopend versterk moet word. Die Voorsitter van die SPT Ontwikkelingskamer, Trevor Abrahams het produsente verseker dat die bedryf hom nou in geheel geposisioneer het om ook opkomende produsente en hul behoeftes suksesvol te kan aanspreek. “In die Klein Karoo-streek is daar tans nog min sulke projekte. Ons strukture is, na ‘n aanvanklike gebrek aan voorsiening vir nuwelinge, nou met ‘n bedryfsplan gerat om opkomende boere en hul behoeftes te dien,” sê hy.
FOTOBYSKRIF: By die Klein Karoo sagtevrugte vergadering op Ladismith was van links, Stefan Conradie (produkbestuurder, SPT), Trevor Abrahams (ontwikkelingskamer), Anton Rabe (hoof uitvoerende beampte, SPT) en Marius Brewis (Klein Karoo streeksdirekteur, SASPA). Saamgestel en uitgereik deur KLEIN KAROO Vrugte, Ladismith |
![]() |